JOIN OUR MAILING LIST
Nuusbrief/Blog


2017-02-04
Uit die Pastorie


‘n Hartelike groete vanuit die Pastorie.

Meeste van ons verbeel ons dat ons in God se oë maar net een van die miljoene is.
Ons weet dat die meeste mense dink ons is nie belangrik nie en daarom neem ons dus aan dat
God op dieselfde manier aan ons dink. Maar, God is nie soos 'die meeste mense' nie. Ons voel dat God witbroodjies het en ons dink dat ons baie ver 
onderaan die lys is. Maar ons sal sien dat hierdie een manier is waar gevoelens nie met die realiteit ooreenstem nie. Vir God is jy spesiaal!

Redes waarom God niemand anders bo jou stel nie God se Seun het Sy laaste druppel bloed vir jou gestort!. God het jou met Sy hele hart lief. Hy het jou lief met elke spikkel van Sy Ontsaglike groot liefde. Dit beteken dat dit nie saak maak hoe lief  Hy ander het nie, Hy kan onmoontlik iemand anders meer liefhê as wat Hy jou liefhet nie.

Die Here het my met Joh. 17:23 stilgemaak:
Ek in hulle en U in my. Sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U my gestuur het en hulle liefhet net soos U my liefhet.


Ek kan nie daarby verby kom nie; Ek kan nie daaronder wegkruip, of oor dit klim nie. Al wat ek dus kan doen, is om daardeur te gaan, dit te absorbeer en in te neem sover ek gaan. Christus is in my - en God is net so lief vir my as wat Hy vir Christus is. Daar is geen manier waarop God se liefde vir Christus halfhartig kan wees nie.  Daar word nêrens in die Skrif beloftes gemaak dat jy altyd geliefd sal voel nie, ook nie dat omstandighede dit altyd ooglopend sal maak dat jy geliefd is nie. God beloof eenvoudig dat Hy jou liefhet. Geen swaarkry of tragedie sal jou ooit van die liefde van God kan skei nie. (Romeine 8:35-39). 'n Prentjie wat jy nou sien bewys absoluut niks. Slegs die films van die ewigheid, kan werklik God se oneindige liefde vir jou weergee.  Hoe liewer jy vir iemand is, hoe belangriker is daardie persoon vir jou. Die feit dus dat God jou met Sy hele hart liefhet, beteken dat jy belangriker vir God is as wat jy jou ooit kon verbeel! 

Voordat God ons vergewe het, was ons almal geestelik dood. Die Woord bevestig dat elke persoon op hierdie planeet dood was as gevolg van hulle sonde. Jy kan nie dooier kry as dood nie. God kan nie sê; Ek kies haar want sy is minder dood as hy nie!  Deur Christus word ons vergewe en wanneer God na 'n persoon wat vergifnis ontvang het kyk, kan hy geen sonde raaksien nie. Wanneer jy vergewe is, kan God geen mens op aarde vind wat méér as jy vergewe is nie.  Dus, sonder Christus, is almal ewe dood in sonde, en in Christus is ons ewe veel vergewe.

Met baie liefde, aan die beste Gemeente!

Pastoor en suster Marie


Terug Terug na bo