Meer oor Ons


Ons wil u graag verwelkom op die webtuiste van die Ebenhaeser Gemeente Carletonville.

Dit is vir my ‘n heerlike voorreg om u net kortliks te vertel waar ons vandaan kom, tot waar ons vandag is. Die Here het ons, deur Sy Gees, geroep tot die voltydse bediening in 1984. Ons bedien dan ook as hulp pastoorspaar in Vereeniging saam met Pastoor Wallace, met die oog op bearbeiding Sonlandpark. Hier bou ons dan die Kerk(saal) waarin ons dienste begin hou na voltooiing daarvan. Ons bedien Sonlandpark vir die volgende drie jaar. Ons geniet uitsonderlike seën uit die hand van die Here temidde van ‘n totale ekonomiese insinking in die Vaaldriehoek. Gedurende Junie 1987 word ons beroep na Phalaborwa gemeente. Ons bedien hierdie gemeente ook vir drie jaar en beleef die bo natuurlike krag van die Here en word dan beroep na Carletonville en word hier bevestig die 2de Julie 1990.

Woorde sal ontbreek indien ek u al die feite moet meedeel. Graag wil ek egter ‘n paar uitsonderlike dinge met u deel. Die gemeente groei tot so ‘n mate dat ons die opdrag van die Here moet uitvoer, naamlik, om ‘n Tabernakel te bou. Aanvanklik wou ek nie, want die gerugte en die koerant berigte het voorspel dat Carletonville ‘n spookdorp sou word. Myne sou toe maak en niks sou oorbly nie. Dit was dan gedurende hierdie tye wat die opdrag van die Here duidelik deurkom – hoe lank sal ek nog Sy opdrag vertraag en nie begin bou nie.

Terwyl ek op die Here wag, in afsondering, het ek die Here gevra om asseblief met my te praat want as Hy my die opdrag gee, MAG DAAR NIE SKULD WEES NIE. Baie duidelik het ek die versekering van die Here ontvang en op die 19de Januarie 2000 gooi die kontrakteurs die eerste vrag sement. Hier was een groot getuienis van begin tot einde en ek beloof om dit met u te deel, met besonderhede, in die tyd wat kom. dan kom die groot dag waarop hierdie Tabernakel tot eer van die Here ingewy word op die 28ste Oktober 2000, om 15:00 die Saterdag middag. Bo en behalwe die wonderlike ondervinding by die oopsluit van die Deure die middag, was die feit dat die Here Sy belofte nagekom het en op daardie besondere dag is die deure geopen sonder dat daar ‘n sent skuld was nie.

Ek wil net aan elkeen sê wat hierdie Webtuiste besoek dat u welkom is om te kom kyk wat die Here vir Carletonville gedoen het en steeds doen. Geestelik het ons gesien hoedat gebed die arm van die Here in beweging bring en beleef ons werklik Pinkster soos dit in die boek Handelinge vervat is. Ons beleef die werklike doping met die Heilige Gees, werklike bekering, sonder om die Evangelie van Jesus Christus aan te pas of te verwater.

Ek wil u nooi om self te kom kyk en saam met ons te deel in hierdie goddelike belewenis.

Hoe ons blad dop, ek gaan die volle getuienis van ons bouprojek met u deel, ook die Geestelike ontploffing in ons Gemeente.

Dankie dat u ons webtuiste besoek, geniet dit en stuur vir ons ‘n boodskap onder die opskrif: Getuigskrifte.

Liefde in Jesus Christus, ons Koning!

Pastoor W. Stols

Leerstelling en Belydenis

WIE ONS IS EN WAT ONS GLO

Hier onder volg n kort beskrywing die Geloofsbelydenis van die PPK Ebenhaeser Carltonville:

Ons is protestante gered uit genade deur die versoeningsbloed van Christus Jesus.

Ons glo in die hele Bybel as die geinspireerde Woord van God.

Ons glo in die drieenige God, die Vader, Seun en Heilige Gees.

Ons glo aan waaragtige bekering, in die wedergeboorte deur water en gees.

Ons glo in die Heilge sakramente, soos deur Jesus ingestel is, naamlik die Doop en die Heilige Nagmaal.

Ons glo dat die doop geskied na bekering en deur onderdompeling.

Ons glo aan heiligmaking.

Ons glo aan die Doping met die Heilige Gees met spreke in vreemde tale.

Ons glo in die wederkoms van Christus Jesus.

Ons glo aan n ewige Hemel en n ewige Hel.

Ons glo aan al die gawes en werkinge van die Heilige Gees.

Ons glo aan die egte Pinkster in sy volheid en in sy krag.

Ons glo aan waarlike Goddelike genesing.